Neopaganisme is 'n oorkoepelende, maar nogtans onpresiese term wat gebruik word om 'n groot verskeidenheid uiteenlopende alternatiewe en Nieu-Heidense geloof- en praktykstelsels saam te snoer. Die term is 'n samestelling van die Griekse voorsetsel neo ("nieu-") en die Latynse paganus (oorspronklik letterlik "bewoner van die platteland", later ook as 'n sinoniem vir heidense bewoners van die Romeinse Ryk gebruik) en dui slegs aan dat dit na nie-Christelike geloofstelsels verwys.
Daar is 'n verskeidenheid sinonieme terme soos Inheemse Spiritualiteit, Keltiese Spiritualiteit, Europese Tradisionele Religie, Ou Geloof en Ou Godsdiens of Religie.
Talle Neopaganiste of Nuwe Heidene is aanhangers van natuurgegronde, religieus-spirituele geloofstelsels, terwyl ander hulle vir die herlewing van Europa se oorspronklike godsdienste beywer wat lankal voor die kerstening van die vasteland bestaan het. Hierdie pogings word meestal bemoeilik deur die gebrek aan presiese oorlewerings en baseer dus dikwels op moderne literêr-filosofiese werke wat eers in die vroeë tydperk van die esoterie en okkultisme ontstaan het.
In die tweede helfte van die 19de eeu het die nasionalistiese bewegings in Europa sterk neopaganistiese trekke getoon, en daar is dikwels beweer dat die Christendom deur vreemde magte op die Europese nasies afgedwing is. Sommige groeperings het selfs tot anti-Semitiese bewegings ontwikkel.
Die huidige Nuwe Heidense natuurreligies behoort tot die vinnigste groeiende religieuse bewegings in die Westerse wêreld.[1] Volgens die Suid-Afrikaanse oorkoepelende liggaam Circle of the African Moon, wat tot by die jaar 2000 as Pagan Federation of South Africa bekend gestaan het, is daar reeds sowat 50 000 Nuwe Heidene in Suid-Afrika.[2]